The following is extracted from Volume IV of the 1986 edition of South African Music Encyclopedia (J.P. Malan, ISBN 0 19 570311 1)
JAN HARM THOMAS SCHUTTE, baritone, born 7 February 1919 in Senekal, died 10 Jan 1999 in Johannesburg
Jan Schutte's first singing teacher was Christobel Edwards of Pretoria (1940-46). From 1955-58 and again from 1960 he was taught by Betsy de la Porte in Johannesburg. In between he had worked at Lieder under Elena Gerhardt in London (1948-50) and had been a pupil of Maria Hittorff in Vienna (1958-59). From 1948 onwards he was often a soloist in SABC programmes and gave a few concert recitals devoted mainly to Lieder, although he also appeared in operas, such as Die Zauberflöte (1960) and La Traviata (1962). Until 1969 he was assistant director of programme development at the SABC, after which he became director of Afrikaans and English programme planning. From 1971 to 1979 he was at first organiser and then director of television programmes.
Jan Schutte is well known both for his radio and stage impersonations and his authorship of several radio plays and novels. He is especially famous for his radio series "Die Du Plooys van Soetmelksvlei", which gained him a national reputation.
When he resigned from the SABC in 1981 he was nominated the Chairman of a Presidential Committee appointed to investigate the creative arts in South Africa.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Jan Schutte: 'n Huldeblyk -- 15 Januarie 1999
Jan Schutte se lewe was in baie opsigte soos 'n fyn geslypte diamant met baie fasette. Met al die talente wat hom beskore was, kon hy met ewe veel gemak 'n loopbaan as akteur, sanger, akademikus of skrywer gevolg het. Maar hy het die uitsaaiwese gekies, waar hy al die talente kon gebruik en hom ten volle kon uitleef.
Ons het dikwels gepraat oor watter genade dit is om in 'n loopbaan te kom waar jy onmiddellik voel dit is wat ek wil doen en ek wil dit vir niks verruil nie.
Jan se loopbaan in die SAUK het in 1946 begin as organiseerder van jeugprogramme en in 1981 met sy uittrede as direkteur-generaal van die SAUK geëindig.
Daar was in die 35 jaar enkele jare se onderbrekings toe hy in die buiteland navorsing gedoen het vir sy doktorale proefskrif oor die radiodrama, en ook sang bestudeer het onder beroemde leermeesters soos Elena Gerhardt in Londen en later Maria Hittorf in Wene. Maar 29 jaar lank het hy hom op sy eerste liefde toegespits en hom op vele terreine van die uitsaaiwese onderskei.
Hy het gesorg vir die goue jare van die radiovervolgverhaal met Die Du Plooys van Soetmelksvlei, sekerlik die grootste treffer wat nog oor die Afrikaanse radio uitgesaai is en wat lank reeds klassiek geword het in die radioliteratuur in Suid-Afrika.
Eintlik het alles wat hy geskryf, voorgelees of voorgedra het, die stempel van onvergeetlikheid gedra. Hy het die vermoë gehad om mense tot stilstand te bring en hulle werklik te laat luister.
Sy deernis met en begrip vir bejaardes en die fyn humor waarmee hy hulle gesien het, het aangrypend gespreek uit reekse soos Briewe van tant Magrieta en Groete van Vader, twee reekse wat soos die Du Plooys later gepubliseer is.
Ek kan ook onthou hoe hulle op 'n keer sy voorlesing van Eitemal se boek Jaffie vroegerig in die oggend uitgesaai het en ek, soos menige ander, in die motor op pad werk toe daarna geluister het. Meer as een oggend moes ek eers 'n rukkie in die parkeergarage bly totdat ek ophou snik het. Hy het baie lekker gekry toe ek hom daarvan vertel het.
As akteur het hy talle hoogtepunte beleef, weer met die stempel van onvergeetlikheid. Vir radio dink 'n mens aan sy vertolking van Tiberius in Germanicus van NP van Wyk Louw, en op die verhoog hoofrolle teenoor Anna Neethling Pohl in Periandros van Korinthe van DJ Opperman, en Die Besoek van die Dame van Dürrenmatt. Hy het ook teenoor Wilna Snyman in Spoke van Henrik Ibsen gespeel.
Daar was etlike optredes in operaproduksies en sanguitvoerings oor die radio en op die verhoog.
Sy poste in die SAUK het egter al hoe meer senior geword en soos so dikwels gebeur, het hy al verder wegbeweeg van die skeppende dinge wat hy die graagste gedoen het.
Maar ook in die bestuursposte met al die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, het hy hom onderskei en nooit sy gevoel vir programme en respek vir die mense vir wie ons uitsaai, verloor nie. Ongeërgde, saamgeflanste programme, afskeepwerk, slordige taalgebruik met die foutiewe uitspraak van name of woorde het hy nie geduld nie en het dié dissiplines oorgedra na televisie, waarby hy lank voor die amptelike instelling betrokke geraak het.
Die navorsing in verband met televisie het reeds in 1965 begin. Hy het ten nouste daaraan saamgewerk en in 1969 is hy aangestel as die sekretaris van die kommissie wat die moontlikheid van televisie in Suid-Afrika moes ondersoek. Uiteindelik het hy aan die spits gestaan van die proefuitsendings en die amptelike instelling van televisie op 5 Januarie 1976.
Almal wat saamgewerk het aan die aanloop tot televisie en in die vroeë jare ná die instelling, toe Jan nog betrokke was, het saamgestem dat ten spyte van die harde werk en verskriklike senuweespanning dit 'n wonderlike bloeitydperk was toe die nuwe regisseurs en programmakers toegelaat is om hulle verbeelding vrye teuels te gee en te eksperimenteer.
In 1981, vyf jaar ná die instelling van televisie, het Jan met pensioen uitgetree en 'n nuwe fase van sy lewe het begin. Hy het sy radiovervolgverhaal Sondaarspoort vir televisie verwerk, die regie gedoen en een van die hoofrolle gespeel.
Hy is ook aangestel as voorsitter van die kommissie van ondersoek na die bevordering van die skeppende kunste. Die Stigting vir die Skeppende Kunste het daaruit voortgevloei en hy is aangestel as voorsitter van die direksie.
Maar daar was nog 'n faset van die ryk, vol lewe van Jan Schutte: Dit was sy lewe buite die uitsaaiwêreld en amptelike pligte en toekennings en eerbewyse, waarvan daar baie was: onder meer 'n erepenning in die uitsaaiwese en die uitvoerende kunste van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en in 1992 die Orde vir Voortreflike Diens (goud).
Hierdie ander faset was sy intense belangstelling in en kennis van die kunste, musiek, die teater en die letterkunde: veral die Afrikaanse letterkunde. Ek glo nie daar het 'n nuwe boek verskyn wat hy nie gelees het, of ten minste kennis van gedra het nie. Hy het graag en uitgebreid gereis. Hy was 'n baaskok en 'n wonderlike gasheer. Hy het die slag gehad om met sy spitsvondigheid en skerp humorsin van enige geleentheid 'n fees en iets besonders te maak. Vriendskap was vir hom kosbaar en hy was 'n lojale vriend wat tyd ingeruim het vir sy vriende. Vir menigeen was hy ook 'n steunpilaar wanneer moeilike tye gekom het.
Jan was baie geheg aan sy familie. Sy broers het hom vroeg ontval en vir hulle kinders was hy in baie opsigte soos 'n tweede pa. Op hulle beurt het hulle hom met groot liefde en toewyding bygestaan. Niks was vir hulle te veel moeite nie en hy het dikwels gepraat oor hoe goed hulle vir hom is.
Die afgelope ongeveer tien of meer jaar was hy uitgelewer aan die aftakeling van Parkinson se siekte, maar hy het positief gebly en nooit gekla nie. Sy gees het helder en wakker soos altyd gebly en hy het selfs aanhou skryf aan 'n radioverhaal tot aan die einde van sy lewe.
Jan Schutte laat 'n leemte in ons lewens, 'n leemte wat waarskynlik met die verloop van jare selfs groter sal word, maar ons sal hom met dankbaarheid en vreugde onthou.
~ Verna Vels, bekende uitsaaipersoonlikheid en skrywer, veral bekend vir haar karakter Liewe Heksie.
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
Dr. Jan Harm Thomas SCHUTTE
7 Feb 1919 Schuttesdraai, Senekal - 10 Jan 1999 Johannesburg, begrawe 15 Jan 1999 NG Kerk, Linden.
Seun van Stephanus SCHUTTE (18 Sep 1883 - 27 Oct 1952) en Susanna Maria VAN ROOYEN (12 Apr 1885 - 11 Jun 1952)
Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar hy 'n meestersgraad in Kunsgeskiedenis behaal het. Sy tesis het oor die werk van die skilder Maggie Laubscher, met wie hy bevriend was, gehandel. Hy het as klerk by die Mielieraad gewerk voordat hy in 1946 by die SAUK aangestel is as organiseerder van jeugprogramme in Afrikaans.
Einde 1948 het hy bedank en twee jaar in Londen navorsing gedoen vir sy doktorale proefskrif gaan doen oor die radiodrama. Hy het sy doktorsgraad aan die UOVS verwerf. Daarna is hy terug SAUK toe waar hy gewerk het tot met sy aftrede as 'n direkteur-generaal in 1981. In die vroeë jare sewentig het hy baie in die buiteland gereis om op die hoogte te kom van die bedryf van televisie wêreldwyd. Hy is in Januarie 1976 aangestel as eerste direkteur van televisieprogramme. Hy sal onthou word vir sy skepping van die radiovervolgverhaal, Die Du Plooys van Soetmelksvlei wat die mense in die jare vyftig voor die radio vasgenael gehou het. Hy het vertel hoe mense hom landwyd gebel het en vertel dat die tye van bidure op talle plekke verskuif moes word, omdat mense nie opgedaag het nie aangesien dit gebots het met uitsendings van dié vervolgverhaal. Hy was 'n aanbieder van formaat, voordraer van poësie, voorleser van kortverhale en ander literêre werk en het 'n baie goeie bariton-sangstem gehad. Hy het hom toegelê op die Duitse kunslied waarvan etlike uitvoerings oor die radio uitgesaai is. Boonop was hy 'n formidabele administrateur, iets wat raar is onder kunstenaars.
As akteur het hy Horacio in 'n Afrikaanse opvoering van Hamlet gespeel en die hoofrol in Periandros van Korinte van DJ Opperman met die opening van die Johannesburgse Stadskouburg. Hy het ook die hartroerende Briewe van tant Magrieta geskryf, wat handel oor 'n bejaarde wat alleen in 'n outehuis sit. Hy het in die rolprent Kampus gespeel asook die televisiereeks Sondaarspoort geskryf en daarin gespeel. Hy het in 1991 die besondere erepenning in die uitsaaiwese en die uitvoerende kunste van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is in 1992 deur die regering vereer met die orde vir voortreflike diens (goud). Hy was ongetroud en het voor sy dood aan Parkinson se siekte gely. Voor sy dood het hy klaarblyklik in die badkamer geval en drie ribbes gebreek waarna hy in die Olivedale-kliniek opgeneem is waar hy aan 'n beroerte gesterf het.